Twintig jaar later – en Valiant rock steeds volstoom in 2010

Valiant Swart

Valiant Swart vier vanjaar ‘n besonderse mylpaal: twintig jaar op die verhoog! Hy het in 1990 sy eerste ‘Valiant Swart Band’ op die been gebring, en vanuit die studentekroegies van daardie beginjare gevorder tot nasionale sterstatus. Vandag is Valiant ‘n huishoudelike naam en gevestig as een van die voorste liedjieskrywers en verhoogkunstenaars in Suid-Afrika, met veertien albums en ‘n paar TV-trefferreekse op sy kerfstok.

Vir Valiant het 2010 afgeskop met die opname van nog ‘n splinternuwe album, ‘n besige optredeskedule, ‘n nuwe TV-reeks en nesskop in ‘n nuwe tuisdorp.

Na die ‘Eindelose Reis’ wat hy en sy gesin verlede jaar deur die SA platteland onderneem het, het Valiant nou sy wortels neergelê in die Strandveldse dorpie Stanford, halfpad tussen Hermanus en Gansbaai. Van hier beplan hy om sy verhoogoptredes voort te sit, sy tydskrifrubrieke te skryf, en werk te voltooi aan twee groot skryfprojekte waarmee hy hom die afgelope twee jaar besig hou.

Na die sukses van hul multi-bekroonde album ‘Vuur en Vlam’ (2007), het Valiant onlangs saam met sy musiekgenoot Ollie Viljoen die opnamesessies van hul nuwe album voltooi. Die album bestaan uit ‘n hele paar nuwe komposisies, asook ‘n paar ou nommers uit die Afrikaanse liedjieskat. Die beoogde loodsdatum is vroeg in April by die KKNK. (Volledige persverklaring op pad.)

In tandem met die album, verskyn Valiant en Ollie binnekort saam met hul verhoogmaat Pietman Geldenhuys as ateljeeorkes in ‘n nuwe kykNet geselsprogram. Hierdie reeks van dertien episodes word eersdaags verfilm en beloof om topklas vermaak aan kykers te verskaf. Behalwe vir ‘n uitsoek-groep ateljeegaste, bied die musikale driemanskap in elke episode kraakvars treffers van hul nuwe album aan.

Soos sy aanhangers sou kon verwag, het Valiant se 2009-reis op die agterpaaie heelwat inspirasie vir nuwe liedjies opgelewer. Hierdie liedjies is reeds besig om hulself tuis te maak in sy verhoog-repertoire. Sommige ou gunstelinge is ook herontdek, afgestof en ‘n nuwe baadjie gegee.

Nes in die verlede, sal Valiant se vertonings een van drie formate beslaan: eerstens is daar sy gewilde solo-optredes, intiem en sielvol, met bittersoet kitaar en stories vol deernis en humor. Tweedens is daar sy ewe populêre optredes saam met Ollie en Pietman (‘Die Mystic Trio’), waar die driestuks gehore trakteer op liedjies en staaltjies uit die Valiant-en-Ollie stal. In die derde plek is daar die gesogte (en skaars) optredes van Valiant met sy rock band. Getroue aanhangers, oud en jonk, maak altyd seker dat hulle nie hierdie vertonings misloop nie, vir ‘n goeie rede: hierdie manne rock nog steeds soos niemand anders in Afrikaans (en Engels) hulle dit kan nadoen nie. Gaan luister maar self.

Of jy nou ‘n volgeling van Valiant se tydskrifrubrieke is, of ‘n aanhanger van sy musiek en sy verskynings op TV: maak vanjaar seker jy is in die gehoor as hy op of naby jou dorp optree – en vier twee dekades se vermaak met een van SA se gunstelinge!

Vir onderhoude, foto’s of medianavrae, kontak:


Riana Wiechers
RHYTHM PROMO
riana@rhythmrecords.co.za

072 341 6439

http://rhythmmusicstore.com

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s