WOW Kerskonsert: piekniek op Neethlingshof27 November 2011 | 18:30 | Neethlingshof, Stellenbosch
Die US Woordfees bied vanjaar vir die tweede keer ʼn opwindende Kerskonsert aan ten bate van die fees se leesbevorderingsprojek, Woorde Open Wêrelde (WOW). Dié geleentheid vind op 27 November om 19:00 plaas op die wynplaas Neethlingshof buite Stellenbosch.
Niël Rademan, die gewilde sanger en kabaretmeester, is die samesteller van die program waarin Jak de Priester, Minette du Toit-Pearce, Nedine Blom, Simangele Mashazi, Andrea Winckler en Riaan Grobler gewilde Kersliedere sing.
Riaan Grobler maak musiek saam met Eersterivier Suid se VGK Kerkkoor en die Kaapstadse Stadsballet sorg vir danspassies wat die gehoor sal meevoer. Die gewilde blonde komediant, Dowwe Dolla, kom vertel haar eie Kersverhaal. Haar teenwoordigheid sal ongetwyfeld sorg dat toeskouers ʼn vrolike Kersfees tegemoet gaan.
By vanjaar se Kerskonsert is Vicky Davis en Niël Rademan die aanbieders, terwyl Camillo Lombard sorg vir die musiekregie. Die konsert beloof om net so gewild te wees soos die eerste WOW Kerskonsert wat in 2010 vroeg reeds uitverkoop was.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket vanaf 9 November teen R100 per persoon. Skoliere- en studentekaartjies sal teen R50 by die konsert beskikbaar wees.
Die WOW Kerskonsert begin om 18:30, maar die publiek is welkom om reeds vanaf 16:00 te kom uitspan. ʼn Heerlike piekniekmandjie vir twee met ʼn bottel Neethlingshof-wyn ingesluit, kan teen R300 deur Computicket bespreek word. Kosstalletjies van Neethlingshof se plaaspersoneel kan ook ondersteun word. Verder is ʼn kontantkroeg beskikbaar. Konsertgangers word aangemoedig om kampstoele en komberse saam te bring. Andersins kan stoel op die terrein gehuur word.
Om seker te maak van ʼn plek by vanjaar se Kerskonsert, word belangstellendes aangemoedig om besprekings so gou moontlik te doen. |
Leave a Reply